Welkom by ons webtuiste

Hallo aan almal. Ons vertrou dat ons nog lekker gaan gesels op hierdie blad. Uit die aard van die saak, wil ons graag ons aandag en bespreking hou op die gebied van landbou. Ons kan dalk later 'n Hoekie vir Eensames skep. Of dalk 'n nuwe truuk om 'n tjoppie te maak staan op die vuur.

Op ons webblad sou jy opmerk dat ons 'n trots gm-Vry maatskappy is. Ons gaan sommer afskop deur te verduidelik hoekom ons onder andere so gekant is teen gm-bevattende produkte. Die hoofredes is omdat ons eerlik en eties is. Hier is ons verduideliking oor Bt mielies.

In die laat 90's, het 'n sekere groot maatskappy, ons noem hulle sommer M, 'n nuwe gier in die land losgelaat. Hulle het beloof, dat met die gebruik van hierdie laboratorium-mensgemaakte gene, wat hulle Bt genoem het, die wêreld sou bevry word van dodelikke insektemiddels. Het dit regtig? Ook sou dit die raaiwerk uit die proses neem om te besluit wanneer om te spuit teen die Stronkboorder. Dit het beslis die lewe makliker gemaak vir die boer en die chemiese-agent. Of het dit regtig?

Die rou feite

Die natuur beskik oor maniere om te oorleef, vêr beter as enige manier wat ons kan uitdink om hom te tem. Dit is alombekend in die landbou wetenskap, dat enige plaag, hetsy dit 'n siekte, onkruid of insek is, heelwaarskynlik binne 30 generasies 'n volle weerstand sal ontwikkel teen ons mensgemaakte wondermiddels.

So het dit ook maar verloop met Bt. Ja, dis waar dat Bt nou net 'n raps oor 15 jaar die land ingebring is, maar onthou, daar is twee motvlugte elke seisoen, en dit beteken 30 generasies! Die ander moeilikheid wat die ouens met die dik brille en groot jasse nie voorsien het nie, is dat namate die mielieplant nader beweeg aan reproduktiewe fase, dÍe spesifieke proteiene wat veronderstel is om die larwe te dood, baie vervlou. Hierdie is 'n ideale geleentheid vir moeder natuur om gou-gou weerstand onder haar kindertjies te saai. En die ander dilemma wat ons opmerk, is dat wanneer die peste en plae eers weerstand ontwikkel het teen 'n wondermiddel/idée, hulle soveel vinniger die nuwe speletjie onder die knie kry.

So sien ons toenemend elke jaar, so vanaf mid Desember tot so aan die einde van Februarie hoe die die spuite oor die lande heen swiep, met 'n wolk van toksiese middels agter hulle aan, net om die wurms te beheer. Baie boere, spuit nou al as standard, net ingeval hulle duur, "in die laboratorium mens vervaardigde gene" sou faal, met 'n rowwe konkoksie van insekmiddels. En die gif-man glimlag breed, veral as 'n sekere maatskappy, hulle noem ons sommer P, die afgelope seisoen hulle kliente aangemoedig het om gratis insekmiddels te verkry vanaf hulle gifmanne indien hulle meer as 5% vreetskade sou opmerk op die mielies. Nou as dit nie self erkenend is dat jou produk nie werk nie, wat is dit dan anders?

Die nuutste plaag wat ons gaan tref, is nou volgens P, is die Mielie Wortel Wurm (Corn Root Worm), waarvan die entomoloë dit eens is dat dÍe pes nog nie eers in Suid Afrika opgemerk is, en dat dit waarskynlik nog baie lank gaan vat voordat dit dalk ons eendag gaan terf, miskien eers oor 'n 100 jaar, is nou volgens die gogga ouens en vrouens. Nou as dit vir jou enigsens sal sin maak om 'n polis uit te neem wat eers uitbetaal as jy te sterwe kom na die ouderdom van 100, sal dÍe nuwe CRW-weerstands gene ook vir jou sin maak. Ek ruik iets, en dis nie net goeie ou kraalmis nie.

Kom ons vra nou weer, gebruik ons minder insekmiddels, het dit problem opgelos rakende stronkboorders?

Jy weet jy het 'n wenresep, as jy 'n produk wat nie meer effektief is, met groot sukses kan verkoop aan jou kliënte, en daardie einste kliënte verdedig jou produk se oneffektiwiteit met sy hele wese. Maak dit sin?

In ons volgende brief- die nare waarheid oor Glifosaat



comments powered by Disqus